Die Langste Nag

Jy was agttien ure in kraam, dit was verskriklik maar wonderlik. As jy nou daaraan terugdink sit dit ‘n groot glimlag op jou gesig. Toe jy nog jonk en onervare was het daai nag in die kraamsaal gevoel soos die langste nag in jou lewe… tot vannaand!

Jou klein mensie gooi nou al vir 2 ure op, letterlik al die beddegoed in die huis lê opgestapel voor die wasmasjien… jou nuwe beste vriendin. Daai een wat jou altyd help maar wie se gladde, wit lyf jou heeldag en aldag herinner hoe belangrik sy is (natuurlik praat ek nog van die wasmasjien).

Wat voel soos twee en twintig dae later is dit verby. Die sluise is toe en hy slaap soos ‘n engel in jou arms. Die langste nag is nog nie verby nie, jy het nog vyf en veertig bondels wasgoed oor wat so om en by drie jaar gaan vat, maar dit maak nie saak nie. Jy was agttien uur in kraam, jy kan alles doen.

Hoe help jy jou kind om op te hou opgooi?

Jy is ‘n Ma vrou, nie ‘n wonderwerker nie! Onthou jy hoe jy dit nie kon stop toe jy oggendsiek was nie? Selfs die gedagte van ‘n reuk het jou maag laat draai. Dis amper dieselfde ding… behalwe dat die een ‘n goggatjie is wat moet uitkom en nie ‘n hormoon wat sy persoonlikheid 180° gaan verander vir 9 maande en ‘n leeftyd daarna nie.

Byt vas, trek daai lakens af en gaan drink daai yskou koffie wat jy nege uur gistraand gemaak het, by jou beste vriendin: Jou wasmasjien.

‘n Maklike metode om jou wasgoed te verminder 🤣

‘n Mamma vir Jesus

Om Mamma te wees voel vir elke Mamma soos die grootste eer en voorreg.

In Moederskap word ons gelyk, word ons almal die beste wat daar is en ooit kan wees en gee ons heeltyd 180 persent van onsself.

Moederskap is ‘n uitputtende, ongelooflike, liefdesreis wat mens tot by God se aangesig bring, by Sy voete laat sit en uiteindelik sy onvoorwaardelike liefde vir ons laat verstaan!

Moederskap is nie altyd maklik nie, soms voel jy moeg, soms maak jy foute en meer male as nie voel jy onseker, maar dit is in hierdie tye wat ons na God se Woord kan keer en sien hoe Hy oor JOU vermoëns dink:

SPREUKE 31: 29 

“Daar is baie knap vrouens,
maar jy oortref hulle almal!”